Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 12 AUGUSTUS 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat twee radioamateurs stilsleutel geword het.

Jimmy Smith, ZR6CC,het na ’n kort siekbed op 2 Augustus 2007 stilsleutel geword.

Theo Gunther, ZS6ER, het op 7 Augustus stilsleutel geword.

Aan hul families en vriende gaan ons innigste meegevoel.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL RTA – DIE AMATEURRADIOGEBEURTENIS VAN DIE JAAR

SARL@HOME SE DATUM HERSIEN

HET JY NA SPUTNIK 1 GELUISTER?

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL RTA – DIE AMATEURRADIOGEBEURTENIS VAN DIE JAAR

Die SARL se program Radiotegnologie in Aksie kom uiteindelik na Gauteng na ’n suksesvolle reeks in KwaZulu-Natal, Ooskaap, Weskaap en die Vrystaat. Die dag sal by die Nasionale Amateurradiosentrum op Saterdag 18 Augustus gehou word met registrasie wat om 08:00 begin en met ’n aksievolle program gedurende die dag. Die programbesonderhede kan op die blaaie van die SARL-webwerf gevind word by www.sarl.org.za, en klik dan op RTA. Indien jy die program in jou posbus of per faks wil ontvang, stuur ’n e-pos of faks aan armi@sarl.org.za met jou e-posadres of faksnommer. Indien jy nie toegang tot e-pos het nie faks die aanvraag na 088 011 675 2793.

Die SARL Radiotegnologie in Aksieprogram behels verskeie aanbiedinge en demonstrasies van belang vir persone met ’n passie vir radio en tegnologie en het groot belang vir die algemene publiek. Bring ’n familielid of vriend saam en stel hulle bekend aan die betowering van amateurradio en die tegnologie wat dit dryf. Die registrasiefooi is ’n lae R20, wat ’n gratis trekking vir die bywoningsprys insluit. Studente en leerders gaan verniet in en neem deel aan ’n trekking vir verskeie draadlose mikrofoonboustelle.

Die Sentechkafeteria sal van vroegoggend tot die einde van die program vir verversings en ligte maaltye oop wees.

Moet nie die Amateurradio Dag van die Jaar hierdie Saterdag 18 Augustus 2007 misloop nie. Aanwysings na die NARS kan op die SARL-webwerf by www.sarl.org.za gevind word. Daar is ’n inpraatstasie op 145,700 MHz.

SARL@HOME SE DATUM HERSIEN

As gevolg van ’n dubbelbespreking moes die datum vir die eerste SARL@HOME, soos verlede week aangekondig, hersien word. Die Sandton Amateurradioklub sal hul AJV op 15 September 2007 by die NARS hou. Die SARL@HOME-geleentheid sal nou op 1 September 2007 om 11:00 gehou word.

Sluit by Rynhardt Louw aan vir ’n koffiesessie om te gesels oor wat jong mense verwag om uit Amateurradio te kry. Leer ook oor Echolink en hoe om jou rekenaar na ’n amateurradiostasie uit te brei. Daar sal ook geleentheid wees om die Reno Farber, ZS6OF, gedenkradiostasie by die NARS te gebruik. Radioamateursin ander dele van die land word genooi om ZS6SRL op 7 080 kHz of 14 340 kHz, afhangende van voortplantingstoestande, te roep.

Gaan die SARL-jeugblaaie op www.sarl.org.za na soos wat nuwe inligting beskikbaar word.

HET JY NA SPUTNIK 1 GELUISTER?

Indien jy destyds in Oktober 1957 na Sputnik 1 geluister het wil ons graag jou storie hoor! Ons het hierdie item in verlede week se SARLnuus gehad. Sover het twee luisteraars met hul stories na vore gekom. Daar moet tog baie meer luisteraars wees wat Sputnik 1 gehoor het. Die mens se eerste satelliet is op 4 Oktober 1957 gelanseer. Dit was omtrent die grootte van ’n basketbal en het 183 pond geweeg en het nagenoeg 90 minute geneem om om die aarde in sy elliptiese baan te wentel.

INTERNASIONALE VUURTORINGNAWEEK TWEE SPESIALE STASIES

71 Seineenheid

Drie lede van die 71 Seineenheid sal die eenheid se roepsein, ZS71SIG, as ’n spesiale geleentheidsstasie, gedurende die Internasionale Vuurtoringnaweek, bedryf. ZS1HF, Pierre, ZS1FH, Frikkie, en ZU1E, Ernie, sal vanaf die militêre opleidingsterrein buite Touwsrivier bedrywig wees op 18 en 19 Augustus 2007 op die 160 m, 80 m, 40 m, 30 m, 20 m en 15 m bande.

BOLAND ARK DEELNAME AAN

Die Boland ARK neem volgende naweek vanaf 17 tot 19 Augustus deel aan die Internasionale vuurtoringnaweek. Die roepsein ZS1BAK/L sal gebruik word vanaf die L'Agulhas vuurtoring. Dit is die mees Suidelike vuurtoring in Afrika. Daar sal veral gekonsentreer word op plaaslike 80 m en 40 m foonkontakte en digitale kontakte op die DX-bande.

SARL BHF/UHF KOMPETISIELOGS

Die kompetiselogs vir die Maart SARL BHF/UHF-kompetisie kan nie opgespoor word nie en stasies wat logs ingestuur het vir hierdie kompetisie, word gevra om dit weer in te dien by die SARL se BHF-bestuurder, Piet Badenhorst, ZS6PJB. Die sluitingsdatum vir hierdie logs is Vrydag 24 Augustus 2007. Logs kan per pos gestuur word aan Piet Badenhorst, ZS6PJB, Posbus 4452, Witriver, 1240, of per e-pos aan zs6pjb@gmail.com.

SUIDER-AFRIKAANSE DX-OPGAWE

Twintig opgawes is gebruik om die Mees Benodigde DXCC-Entiteite vir Suider-Afrika te bepaal. Daar was gehoop dat daar meer opgawes sou wees, maar miskien volgende keer.

Kermadec Eiland, ZL8, is die DXCC-entiteit wat op foon die meeste benodig word, dit word gevolg deur Desecheo Eiland, KP5, Cocos Eiland, TI9, Niue, ZK2 en Tokelau Eiland, ZK3.

Op GG word die eerste plek deur drie entiteite gedeel, naamlik Jemen, 7O, Amerikaanse Samoa, KH, en Noord-Korea, P5. Die tweede plek word ook deur drie entiteite gedeel, St. Paul Eiland, CY9, Austraal Eilande, FO/A, en Mount Athos, SV/A.

Dankie aan almal wat 'n opgawe ingedien het. Die volledige lys is beskikbaar per e-pos vanaf zs4bs@netactive.co.za.

RAE-KURSUS IN KEMPTON PARK

Die Kempton Park amateurradio tegniese vereniging het die 11de Augustus begin met die aanbieding van die RAE-kursus vir die komende klas A-eksamen. Besoek gerus hulle webtuiste vir meer inligting by www.kats.za.net of skakel Hannes, ZS6LW, by 073 180 3506.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees met moontlike aktiewe vlakke gedurende 16 en 17 Augustus. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. 20 m en 40 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Na Australië toe gaan toestande baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike kort 20 m-openinge na Europa. Vir die nagwolwe is daar om 04:00 moontlike kort 80 m-openinge na die Ooskus van die VSA. Andersins gaan kontakte met die Verenigde State baie uitdagend wees.

Vir die morsekode en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande op 40 m vir vanmiddag se mobiele wedstryd goed wees. Dit is nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m-WAZS-toekenning.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

12 Augustus - SARL 40 Meter Mobiele kompetisie;
17 – 19 Augustus – Internasionale Vuurtoringnaweek;
18 Augustus - Radiotegnologie in Aksie dag in Gauteng;
23 Augustus - Klas B RAE;
1 September SARL@HOME;
4 - 10 Oktober - Spesiale ruimteprogram;
6 Oktober - SA AMSAT Ruimtekonferensie;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel en uitgesaai is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003